Ontstaan

Dieter Scholtz


In Januarie 1989 het Dieter Scholtz sy eerste treë in die Hoërskool D.F. Malherbe as jong graad 8-leerder gegee. Sy vriendelike, innemende en flegmatiese geaardheid het hom dadelik gelief gemaak onder personeel en leerders. Hy het altyd uitgereik na ander en tyd gemaak vir elkeen. Dieter het diep spore in die Hoërskool D.F. Malherbe getrap.Nie slegs was hy ´n top-presteerder wat ´n A-gemiddeld in Matriek behaal het nie, maar was hy ook baie betrokke by die buitemuurse bedrywighede van die skool. Dieter was ´n ACSV-bestuurslid, redaksielid van Malherbiet en ´n puik redenaar. Sy debatspan het ook die streeksronde van die Junior Rapportryers Debatkompetisie gewen.

Dieter het sterk leierseienskappe openbaar wat daartoe gelei het dat hy in 1993 as onderhoofseun gekies is. Hy het hom as geoktrooieerde rekenmeester aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit bekwaam. As student en suksesvolle jong sakeman, was hy net so geliefd soos op skool. Dieter was ´n lojale vriend met sterk Christelike beginsels. Hy was met alle groepe vriende. As jong sakeman in Port Elizabeth het hy opkomende sakemanne met raad en daad ondersteun.

In 2007 is Dieter tragies oorlede, maar sy nagedagtenis bly voortlewe in ons harte. Hy was ´n sonvanger!

Daarom is die Hoërskool D.F. Malherbe dankbaar teenoor sy ouers, mnr en mev W. Scholtz, dat hulle ingestem het om dié verbeeldingryke beursinisiatief na Dieter Scholtz te vernoem. Ons bly trots op Dieter!

12 Februarie 2009