|
Die ontstaan van die Hoërskool D.F. Malherbe spruit uit ‘n behoefte wat in die laat veertigjare onstaan het, naamlik vir ‘n Afrikaansmedium hoërskool vir die suidelike voorstede van Port Elizabeth.
Vir die Afrikaanssprekendes wat in die deel van die stad gewoon het, was dit belangrik dat hul kinders in hul moedertaal onderrig word en dat die opvoeding wat hul in sodanige skool sou ontvang, ‘n Christelike karakter sou hê. In 1955 is hierdie ideaal verwesenlik toe die "Afrikaansmedium Hoërskool in Walmer" sy deure vir die eerste keer geopen het.
Baie gou het dit geblyk dat daar in die skoolgemeenskap ‘n begeerte ontstaan het dat dit waarvoor die skool staan, naamlik opvoeding aan die Afrikanerjeug deur middel van hul moedertaal, ook in die naam van die skool vergestalt moet word. Daar is toe besluit om die skool na die gevierde skrywer en taalwetenskaplike, kultuurleier en Godsman, D.F. Malherbe te vernoem.
Vir die ouergemeenskap en die onderwysers was dit ‘n simboliese keuse omdat prof. D.F. Malherbe sy lewe deur ‘n leidende rol gespeel het, nie net in die stryd om erkenning van Afrikaans nie, maar ook in die uitbou en verryking van die Afrikaner se kultuur.
Hierdie strewe word ook uitgebeeld in die skoolwapen van ons skool, naamlik ‘n vuurtoring wat rotsvas staan en sy lig in die donkerste nag versprei.
Die ligstraal vorm ‘n stralekrans in ‘n wawielvorm; dié van die Voortrekkerwa wat die beskawing in die binneland ingedra het.
Tot vandag toe vereenselwig die D.F. Malherbe-skoolgemeenskap hul met dié strewe en ideale van ons voorgangers.
|