|
Geskryf deur Johan Smith
|
Die matriektoer het sy ontstaan te danke aan ‘n groep ouers en onderwysers wat gevoel het dat hulle vir ons matrieks iets baie spesiaals en besonders in hul matriekjaar wil aanbied. Meneer Carel Greyling (ouer) wat vroeër onderwyser was in die Oos-Vrystaat, het toe met die gedagte van ‘n matriektoer na die Drakensberge in Natal gekom. In Maart 1982 het die eerste matriektoer na die Drakensberge vertrek.
Vanuit die staanspoor was daar duidelike doelwitte met die toer gestel:
- Dit moet ‘n unieke toer wees in die sin dat die leerders uit hul bekende omgewing na ‘n totaal onbekende omgewing geneem moet word.Die gedagte was ook dat die leerders iets moet beleef wat hul nog nooit vantevore beleef het nie en ook nie gou in hul lewens sou beleef nie.
- Die toer moet opvoedkundig van aard wees.
- Aktiwiteite waaraan die leerders deelneem, moet van so ‘n aard wees dat almal daaraan kan deelneem en nie net die sportmanne en –vroue nie
- Die klem van die toer moenie op besigtiging val nie, maar eerder op deelname
- Uitdagings moet aan die leerders as ‘n groep gestel word
- Die groepsgevoel onder die matrieks moet baie sterk beklemtoon word.
Teen bogenoemde agtergrond het die eerste toer toe in 1982 vertrek. Vanuit die staanspoor was dit 'n reuse treffer. Die Drakensberge in Natal was die regte keuse om aan die filosofie van die toer gestalte te gee.
Groepaktiwiteite waaraan die leerders deelgeneem het, was: bergklim (Sterkhorn naby Champaine Castle en Mount-ex-Sources naby Witsieshoek), stap (Tugela-wandelpad), perdry, kano, ab-sailing en vele ander.
Opvoedkundige besoeke het die volgende ingesluit: Bloedrivier, Spioenkop, Kerkenberg, die Tugela Hidro-elektriese skema en vele meer.
Lesings oor die ontstaan van die Drakensberge, geologie, plantkunde ens is gereed aangebied.
Vandag nog slaag die toer uitstekend daarin om aan al die oorspronklike doelwitte gestalte te gee. Verder dien die toe ook as saambindende faktor tussen nie net oudleerders nie, maar ook tussen families. In 2007 het twee meisies bv. presies dieselfde toer meegemaak as wat hul ma's in onderskeidelik 1982 en 1983 meegemaak het. Broers en susters uit verskillende jaargroepe deel ook dieselfde ervarings jare nadat hulle die skool verlaat het.
|
|
Laas Opdateer op Donderdag, 17 September 2009 17:28 |