|
Geskryf deur: Ann Hobson en Arno van Wyk
In Mei het DF Malherbe vyf eenbedrywe tydens die jaarlikse feesweek op die planke gebring
Drie van dié stukke het aan die ATKV Tienertoneel Kompetisie deelgeneem.
Die ATKV Tienertoneel Kompetisie is 'n landwye kompetisie wat in 9 streke plaasvind. Een van DF se stukke, WIE, het die streekfees van die Oos-Kaap gewen. Die ander twee stukke, "Wat dink jy doen jy?" en "Loop K-Ringe" is gesamentlik derde geplaas. Dit was reeds 'n skitterende prestasie. Volgens die ATKV Tienertoneelorganiseerder, het daar vanjaar 160 toneelstukke aan die streekfeeste in Suid-Afrika deelgeneem
Na afloop van die streekfeeste word die 10 beste stukke in die land die geleentheid gegee om by Aardklop op te tree. 'n Wenner sal dan aangewys word en verdere toekennings sal gedoen word.
TOP10 IN DIE LAND
'n Besondere eer het die skool te beurt geval toe "Wie" as een van die 10 beste stukke in die land gekies is. Ander bekende hoërskole wat ook op Aardklop te sien sal wees, is: Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Martin Oosthuizen, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Brackenfell, Hoërskool Fochville, Hoërskool Grens, Hoërskool Die Wilgers, Hoërskool Piet Potgieter en Hoërskool Eldoraigne.
DRAMATIESE KUNSTE AS VAK
DF se toneelgeselskap bestaan uit Emma Kotze, Jani van Wyk, Marco Markgraaff, Marné Nel en Zandi Loots. Al hierdie spelers neem Dramatiese Kunste as vak. Hulle het self die konsep vir die toneelstuk ontwikkel, speel self alle rolle en het ook self die regie behartig. Die tegniese aspekte word deur Nicola Alberts, Wilmie Scholtz en Tanya Marais behartig.
BEOORDELAARS
Die beoordelaars wat die 10 stukke by Aardklop gaan beoordeel, sluit bekende akteurs in Suid-Afrika in: Albert Maritz, Denise Newman, Elize Marx, Johann Nel, Leon Cloete, dr. Peet van Rensburg, Waldemar Schultz en Wim Voster
OPTREDES
DF se groep vertrek op 27 September na Potchefstroom en sal op die Aardklop-verhoog te sien wees op 29 September om 14:30 en op 1 Oktober om 09:00
Optredes by Aardklop word beskou as volwaardige Aardklop-optredes. Professionele kwaliteit word verlang al is dit hoérskoolleerders. Die hele Hoérskool D.F. Malherbe gemeenskap is besonder trots op al hierdie leerders en ons wens hulle alles van die beste toe.

Spelers in die toneelstuk "Wie"
Links na regs: Emma Kotze ; Marco Markgraaff ; Zandi Loots ; Marné Nel ; Jani van Wyk.
|